Geagte lede en belangstellendes
Tot dusver het 2015 groot opwinding en positiewe verandering in ons geledere meegebring wat ons
graag met u wil deel.
Reeds vroeg in Januarie het inspekteurs van die Koöperatiewe Banke Ontwikkelingsagentskap
(KBOA) hul finale evaluering van KSK voltooi na ons aansoek in Oktober 2014 ingedien is.
Sederdien is KSK in kennis gestel dat die aansoek suksesvol was en is KSK nou ‘n Koöperatiewe
Finansiële Instelling (KFI). U sal opmerk dat n.a.v. hierdie registrasie KSK nie meer bekend sal
staan as ’n Spaar en Krediet Koöperasie nie en het dit ook meegebring dat KSK voorwaar ’n nuwe
baadjie aantrek met ’n nuwe naam en embleem.
Nog twee persone is intussen tot die KSK Direksie gekoöpteer by name van Joop Swanepoel en
Rynette Terblanche. Joop geniet tans aftrede op Kleinfontein en was destyds ekonoom by die
Nywerheid-Ontwikkelingskorporasie. Rynette is ’n Senior Voldoeningsbeampte by Sanlam en is
woonagtig in die Wildpark. Ons wil beide welkom heet en bedank dat hulle ook hul kennis en
ervaring tot voordeel van KSK beskikbaar stel.
KSK en KBK hou ’n gesamentlike Inligtingsdag op Saterdag 23 Mei om 10:00 in die
Gemeenskapsaal. Tydens hierdie geleentheid gaan ons die lede op datum bring met al die gebeure
die afgelope tyd by KSK, asook die werk wat voorlê vir die res van die jaar. Dit is ook tydens hierdie
geleentheid waar KSK en KBK ‘n gesamentlike projek loods. Op hierdie dag vind die jaarlikse
Wildsfees ook plaas en wil ons graag ons lede aanmoedig om beide geleenthede by te woon en die
dag saam mede-Kleinfonteiners te kom geniet.
KSK se Algemene Jaarvergadering vind vanjaar plaas op Saterdag 20 Junie. Dit is belangrik dat u
ook hierdie geleentheid sal bywoon omrede KSK se nuwe Grondwet goedgekeur moet word n.a.v.
ons registrasie as KFI. Die formele AJV Kennisgewing sal op ’n latere stadium versprei word.
Die direksie het ’n nuwe rentekoers struktuur van die bemarkingskomitee goedgekeur. U sal sien
dat hierdie struktuur en koerse meer gunstig is vir beleggers as voorheen. Daar is tans baie ruimte
vir die inneem van beleggings en wil ons die lede vra om familie en vriende wat deel in die missie
van KSK en Kleinfontein aan te moedig om fondse by KSK te belê. Dit is die vloei van hierdie
fondse wat beide KSK en Kleinfontein volhoubaar sal laat groei.
KSK Direksie